
Pogings om hoër onderwys te ontwrig moet ondersoek word
Loading player...
Dit blyk uit onlangse gebeure by die land se universiteite dat daar dalk 'n poging deur 'n derde party aangewend word om hoër onderwys in die land te destabiliseer. Dit is volgens die adjunk-minister van hoër onderwys, Mduduzi Manana, wat vanoggend die media by die Mafikeng-kampus van die Noordwes-Universiteit toegespreek het. Manana het bygevoeg dat dit egter slegs 'n vermoede is, en dat die moontlikheid daarvan deur die owerhede ondersoek moet word. Sy besoek volg nadat studente en veiligheidswagte vroeër vandeesweek slaags geraak het nadat die universiteitsbestuur die SR ontbind en 'n nuwe een aangestel het. Twee geboue is aan die brand gesteek. Die kampus is onbepaald gesluit en studente is gister gevra om die kampus te ontruim. Manana meen ook daar is beter wyses vir studente om hulle griewe te lig.

