JouMenseMyMense saam met SPAR – Oom Sakkie Parsons

Oom Sakkie Parsons (72) kan nie baie van sy kinderjare onthou nie. Hy vermoed dis omdat die Here vir ons breine ‘n soort meganisme geïnstalleer het wat sekere dinge “delete” of so diep in die argiewe bêre dat dit nie Sy kinders moet pla nie...

Oom Sakkie en sy boeties en sussies is as jong kinders van hulle ouers weggeneem en in pleegsorg geplaas. Die pleegmoeder het haar eie en ook ander kinders gehad, maar hulle werklik baie sleg behandel. As sy boeties bed natgemaak het, het die pleegma die nat lakens in hulle monde gedruk. Op ‘n dag het die welsyn sy broers en susters kom haal, maar hom alleen daar gelos. Hy kon nie na ‘n gewone weeshuis toe gaan nie omdat daar fout was met sy oë. Meeste van die skoolvakansies kon hy nie na een van sy ouers toe gaan nie en is dan uitgeplaas na vreemde mense.

Hy was so 30 jaar oud toe hy sy sig heeltemal begin verloor het. Die ergste was die besef dat hy binnekort nie meer sy kinders se gesiggies sou kon sien nie en dit het toe ook so gebeur toe hy blind word.

Oom Sakkie het sy vrou, wat Dementia gehad het, tot op die einde versorg en toe voor sy 70ste verjaarsdag besluit om iets anders in sy lewe te begin. Omdat hy vroeër jare tot kort na sy behandeling vir melanoom kanker wat in 1998 geëingdig het, langafstand wedlope gedoen het, het hy besluit om weer te begin hardloop. Hy het egter ‘n gids nodig gehad en toe hy vir Marix by Agape Klub ontmoet het sy aangebied om te probeer as Oom Sakkie bereid was om ‘n kans te neem met haar. Intussen het hulle al twee 10km padwedlope en ‘n half-marathon so saam-saam voltooi. Vir Marix, wat al haar lewe lank hardloop, gaan dit nie oor die tye wat sy hardloop nie, maar eerder die geselskap langs die pad en om haar liefde vir hierdie sport met ander te kan deel. En boonop help dit dat haar en Oom Sakkie se pas presies dieselfde is.